Toskane

---Sidenote START---
Wapen en vlag
Die Toskaanse wapen Die Toskaanse vlag
Algemene gegewens
Hoofstad: Florence
Administratiewe verdeling: 10 provinsies
Oppervlakte: 22 990.18 vk km
Bevolking: 3 733 897 (30 April 2018)
Bevolkingsdigtheid: 163 inwoners per vk km
Webwerf: www.regione.toscana.it
ISO 3166-2: IT-52
President: Enrico Rossi
Kaart
Die ligging van Toskane in Italië

Toskane (Italiaans: Toscana) is die vyfde grootste administratiewe streek in Italië met 'n oppervlakte van 22 990 vierkante kilometer. Met 'n bevolking van 3,7 miljoen word die streek onder die digbevolkte gebiede van die land gereken. Nogtans is die bevolking saamgetrek in die stedelike nedersettings van Noord-Toskane. Hier is ook die streek se hoofstad Florence geleë. Die suide is yl bevolk met Grosseto en Siena as grootste nedersettings.

Die beroemde marmergroewe van Carrara in die Apuaanse Alpe

Vir die meeste buitelanders vorm die sogenaamde Chianti-streek tussen Siena en Florence met sy golwende heuwels die ikoniese ideaal van 'n Toskaanse landskap. Nogtans is dit net een van 'n verskeidenheid landskapsvorme wat hier aangetref word, dikwels dig bymekaar geleë. Suid van Siena lyk die kleilandskap van die Crete Senesi, wat aan erosie en somerdroogte blootgestel is, op baie plekke soos 'n maanlandskap. Die gebied noord van Florence is sterk deur industrialisering geraak, terwyl die berglandskap van die Apuaanse Alpe in die noordweste met die befaamde Carrara-marmergroewe verbind word.

Toskane is 'n welvarende streek volgens Italiaanse standaarde, met 'n bruto binnelandse produk (BBP) wat volgens koopkragpariteite effens hoër is as die Europese Unie se gemiddelde BBP. Toerisme is een van die florerende bedrywe van Toskane danksy die aantreklike landskappe en kunssinnige geskiedenis waaruit die grootste digtheid argitektoniese en kunsskatte in Italië voortgespruit het. Ses wêrelderfenisgebiede word deur Unesco beskerm word: die geskiedkundige sentrum van Florence, die geskiedkundige sentrum van Siena, die plein van die Katedraal van Pisa, die Middeleeuse middestad van San Gimignano (die "Manhattan van die Middeleeue"), die geskiedkundige sentrum van Pienza en die heuwelagtige gebied Val d'Orcia.

Die Toskaanse dialek, wat in die Middeleeue hoë aansien geniet het danksy digters en skrywers soos Dante Alighieri, Francesco Petrarca en Giovanni Boccaccio, het die basis gevorm vir Standaarditaliaans.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search